Ek is ’n groot ondersteuner van die Tour de France. Vanjaar het die talentvolle Tadej Pogacar die verbeelding aangegryp. Die jong Sloweense fietsryer was op pad na ’n oorwinning toe hy teen ’n bergpas ’n pap band kry. Sy teenstaanders het hulle kans aangegryp en begin versnel. Maar toe vind die mooiste oomblik van die toer plaas: Pogacar se UAE-span het teruggeval om hom te help. ’n Spanlid het sy fiets vir hom gegee en hy het die bondel gou ingehaal en die skof gewen.
Die idee van ’n doeltreffende span het weer vandeesweek by my opgekom toe die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, aangedui het dat sy die Oktober-skoolvakansie wil kanselleer. Volgens Elijah Mhlanga, haar woordvoerder, het die komitees van onderwysministers en onderwyshoofde reeds besluit om die vyf dae wat prysgegee is weens die vroeë sluiting vir die wintervakansie weens Covid-19 in te haal.
Dit blyk dat nie een van die groot vakbonde geraadpleeg is nie en dus nie die besluit wou steun nie. Onderwys is nie ’n entiteit op sy eie nie; dit fungeer in ’n samelewing wat uit verskeie verwante stelsels bestaan. Dit sluit in gesinne (met vakansieplanne) en skolesport-programme. Dit is dus onaanvaarbaar dat die departement van basiese onderwys (DBO) ’n eensydige besluit oor so ’n belangrike kwessie wou neem. Dat die DBO steeds die skooljaar as “normaal” beskou, getuig van ’n burokratiese ingesteldheid. En om 200 skooldae ten alle koste af te dwing, wys hoe uit voeling die DBO is met wat op grondvlak gebeur.