Voor einde vanjaar, as die Covid-19-pandemie nie ’n stokkie daarvoor steek nie, gaan Suid-Afrikaners wéér daardie moeilike keuse moet uitoefen.
Agter watter verdienstelike politieke party gaan hulle hul kruisie by die stembus trek? Weens die pandemie en bekommernisse oor ’n derde of selfs vierde vlaag van die virus later vanjaar, asook onsekerheid oor die land se entstofprogram, is daar vrae of die munisipale verkiesing sal plaasvind.
Julius Malema, leier van die EFF, het onlangs gesê die verkiesing (wat waarskynlik tussen Augustus en November gehou sal word) moet eerder tot 2024 uitgestel word. Hy voer aan dat politieke partye nie genoeg tyd gaan hê om voor die verkiesing veldtogte te voer nie. Hy meen ook die verkiesing en verkiesingsveldtogte kan superverspreiders van die virus wees.