Foutvinderigheid is nie op die lysie van doodsondes nie, maar dit behoort daar te wees. En ek reken daar is ’n Bybelvers wat dit te kenne gee, in die trant van ouers moenie gedurig by hul kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. Waar “moedeloos” beteken jy knak ’n kind se lewensmoed.
Beheptheid met foute stam uit ’n opvoedingsfilosofie wat mense van kleins af leer om banger vir “foutmaak” te wees as vir die duiwel self. Daarvolgens moet foute en mislukkings tot elke prys vermy word. Jy moet altyd die “regte” dinge doen, die “regte” antwoorde op vrae kan gee en vir al die “regte” dinge kry jy dan die “regte” belonings. Dan is jy mooi soet en goed.
Wat al die “regte” dinge doen, veral aan kinders, is om hul verbeelding, die natuurlike begeerte om met ongewone en oënskynlik onverwante idees te speel, in die kiem te smoor. Op grond van die vrees vir “foutmaak”; dat dit wat hulle dink en wens as onnosel, belaglik en waardeloos beskou sal word.