As daar nou één plek is waar mense se persoonlikheid en geduld tot die uiterste beproef word, dan is dit in ’n ry. Die twee goue woorde is bedagsaamheid en geduld, skryf Willem Fransman Jr.
November is amper op sy rug, met Desember wat reeds vir ons wink. Dan die naderende feestyd. Mense praat maklik van die feestyd as die “malseisoen”. Dis asof mense die waaksaamheid waarvolgens hulle hul lewens ingestel het, skielik laat verslap.
Seker ook maar met reg, want ’n boog kan net só lank gespan bly. Iéts moet skiet gee. Ampers soos wat Wilbur Smith, die onlangs afgestorwe skrywer, in sy eerste epogmakende boek, When the lion feeds, geskryf het: “Something always dies when the lion feeds, and yet there is meat for those that follow him.”