Toe Vincent Koch in die tweede toets teen Wallis ’n kritieke fout maak, het Willem Fransman jr. dadelik gedink aan ’n ander Springbok-yster: Ebbo Bastard.
Sedert Saterdag 9 Julie is dit die gesig van die Springbokstut Vincent Koch wat heeltyd by my spook. Spesifiek daardie beeld van hom, kort nadat hy die bal in die laaste paar minute van ’n baie spanningsvolle toetswedstryd aangeslaan het.
Sy uitdrukking ná sy aanslaan so na aan Wallis se doellyn was nie ’n mooi gesig nie. En vir ’n vlietende oomblik het my hart na hom uitgegaan. Hy was so verwese. Sy hele gesig, sy hele wese het net een boodskap uitgestuur. “Ek is jammer, maters. Ek is jammer, Suid-Afrika. Ek het julle, maar ook my landgenote, in die steek gelaat.”