Die kaping van instellings het die Julie-onluste moontlik gemaak en dit wil voorkom asof die gevaarligte ook nou flikker vir die RDK. Ons sal die EFF fyn moet dophou, skryf Christi van der Westhuizen.
Die pas verskene verslag oor verlede jaar se Julie-onluste bevestig opnuut hoe die kaping van staatsinstellings ’n sentrale strategie van klepto-politici is. Om daardie rede moet die bedrywighede van die Regterlike Dienskommissie (RDK) fyn dopgehou word, want die oppergesag van die reg vereis dat regters onafhanklikheid geniet.
Beide die Julie-onluste en die pas afgelope onderhoude vir die hoofregterspos deur die RDK toon ook hoe die klepto-politici konflik en chaos doeltreffend vir hul eie agenda aanwend – of dit nou in die strate is of in die spoggerige hotelkamers waar die RDK-onderhoude plaasgevind het.