Waarom is (veral Afrikaanse) kykers so ontstig oor die uitsprake van (veral een van) die “ware huisvroue van die Wynlande”? Christi van der Westhuizen verduidelik.
“Die Afrikanervrou is na my mening ’n bevoorregte spesie, uniek op aarde. Ons geniet die onbeperkte vryheid van tyd gegun deur goedkoop, intelligente, swart huishoudelike arbeid. So ons kan in vermaak spesialiseer, of in klere-ontwerp, of tuinmaak, of ’n connoisseur van silwer word, of ons eie potte of poësie vir Kersfees maak . . . Ek blameer die mans hiervoor. Hulle hou daarvan só. Hoe meer ledig hul vroue, hoe meer suksesvol moet hulle ooglopend wees. Meeste van hulle is steeds heeltemal onbevryd en lewe nog soos hul voorsate – kla oor die regering, jag in die noorde, of vertel rassistiese grappe in wolke braaivleisrook.”
Die bohaai oor Die real housewives van die Wynlande het my aan dié woorde van Antjie Krog uit die 80’s laat dink. As ’n samelewing verwag ons van ons vroue om ons waardes en idees van sukses te beliggaam. Soos in ’n televisiereeks, volg hulle maar net die sosiale draaiboek wat die norme uitstippel waarvolgens vroulike sukses en dus mans se sukses gemeet word.