Pres. Wladimir Poetin en sy trawante het oor ’n tydperk van 22 jaar naastenby $1 000 miljard van Rusland gesteel en hy is bereid om enigiemand wat in sy pad staan dood te maak, sê Bill Browder, iemand op wie Poetin veral graag sy hande wil lê, aan Murray La Vita.
Bill Browder (58) praat met die gemak, selfvertroue en helderheid van iemand wat sy boodskap al dikwels (ook aan die magtigste mense op aarde) oorgedra het. En wie se aktivisme en die Magnitski-wet, waarvan hy die aanvoerder is, daarvoor sorg dat van die grootste internasionale boewe – van Russiese oligarge tot die Guptas – se internasionale bankrekeninge bevries word, hulle nie visums kan kry nie, en op hul bates beslag gelê word.
Browder sit in ’n vertrek van sy Londense huis met agter hom ’n afbeelding van wat lyk na Breugel se Winterlandskap met voëlwip.