Oudregter Albie Sachs sê aan Murray La Vita die prys wat hy van Amal en George Clooney gaan ontvang vir sy stryd om geregtigheid te laat seëvier, is ook ’n eerbewys aan mense soos Bram Fischer en die vermoorde Mxenge-egpaar.
Die onderhoud met Albie Sachs (87) vind plaas in die kothuis in Clifton, waar hy saam met sy lewensmaat, Vanessa September, en hul tienerseun, Oliver, woon. Die huis is naby die see waar Albie gereeld swem.
’n Mens dink onwillekeurig aan wat hy aan die einde van The Jail Diary of Albie Sachs beskryf: Hoe hy, toe hy in 1964 ná maande in eensame aanhouding vrygelaat is, van die Kaapstadse polisieselle af tot in Clifton gehardloop het. Toe hy daar kom, het hy aanhou hardloop tot in die see, waar hy ’n brander “oor sy moeë lyf laat spoel het”.