Aan die vooraand van haar 70ste verjaardag praat Antjie Krog met Murray La Vita oor waarom sy in Suid-Afrika wil bly, die bevryding van ouer word, en haar kragtige nuwe digbundel.
Antjie Krog sit op ’n Vrydagmiddag in die skemer, lugverkoelde leefvertrek van ’n gastehuis op ’n plaas buite Wellington. Sy is lenig in jeans, aantreklik, intens, omgeef van lewensdrif.
Buite die huis staan ’n koraalboom in volle blom op die oewer van ’n dam. In reaksie op ’n opmerking dat die blomme soos vlamme lyk, sê sy: “Vlamme en ook rowe, bloeiende hande.”