Kleintyd was sy kop propvol stories en verbeelding – van geselsies met miere met name tot ’n groen drakie as beste maatjie. Dit was Wynand Kotzé (30) se realiteit, as’t ware eintlik sy behoud as kind op ’n konserwatiewe plattelandse dorpie.
Maar duidelik was hy vir groter en blinker dinge bestem. Jare later, in 2020, tref sy skreeusnaakse WynVirDiePyn-video’s die internet met ’n knal en binne ’n oogwink soek derduisende splinternuwe fêns skielik ’n show. Tans trek WynVirDiePyn al verby die 4 miljoen likes met meer as 265 000 volgelinge. En toe, in 2022, kry die aanhangers meer as net ’n show – die fopdosser Tollie Parton maak haar buiging en nou lag mense hulle behoorlik skuins vir dié se kwinkslae.