Kathryn Smith praat met Murray La Vita oor die uitkenning van lyke, Police File, Jack the Ripper, en waarom sy ’n forensiese kunstenaar geword het.
Oor Kathryn Smith se kuns is al gesê dit daag die kyker uit om ’n speurder te wees. Wat óók waar is, is dat sý in ’n sin ’n speurder geword het sedert sy haar as forensiese kunstenaar bekwaam het.
Ons ontmoet Smith in die A4-kunsstigting se gebou in Kaapstad waar sy die mede-kurator is. Sy is ook in die stad omdat sy vroeër die dag as eksterne eksaminator vir die werk van ’n meestersgraadstudent aan die Michaelis-kunsskool van die Universiteit van Kaapstad moes optree. Daarby is Smith hoof van die Universiteit Stellenbosch se departement visuele kuns.