Peet Smith onthou daardie skop asof dit gister was – die strafdoel wat hy in die Curriebeker-eindstryd van 1970 kort voor die einde deur die pale gesit het om Griekwas teen die magtige Noord-Transvaal in Kimberley te laat wen.
“Ek dink nie dit is iets wat jy maklik vergeet nie. Dit bly altyd in jou gedagtes. Of dit nou 52 jaar gelede of verlede jaar was, jy onthou dit presies soos wat dit gebeur het,” sê Peet (74), wat flank gespeel het.
Op ’n herfsoggend gesels Peet en sy broer Tos (77) waar hulle loopafstand van mekaar in ’n meenthuiskompleks in Kimberley woon.