Jill Levenberg warrel die ateljeegang af soos ’n wafferse Kaapse suidooster, ’n storm in ’n sexy swart rokkie, hare wild en los, vol gesels en ’n glimlag wat jou amper insluk.
Van Mymoena Samsodien, die Moslem-matriarg wat Jill ’n paar minute gelede nog statig en gedoek voor kameras in die Suidooster-ateljee gespeel het, is daar nou niks te siene nie.
Sy wip neer op ’n stoel, knars ’n bottel water oop en vat ’n paar vinnige slukke. Net onder haar roksoom lees jy die fyn sierletters op haar bobeen: Gracious words are a honeycomb, sweet to the soul and healing to the bones.