Hy wou onder meer die geskiedenis laat lewe, sê Tinus le Roux aan Gert van der Westhuizen oor sy boek waarin foto’s van die Anglo-Boereoorlog ingekleur word sodat mense weer met ander oë na dié konflik kan kyk.
Baie puriste sal sê jy kan nie met die geskiedenis lol deur swart-en-wit foto’s in te kleur nie. Dit is mos nie hoe die fotograwe van destyds dit bedoel het nie. Boonop kan dit mense dalk net ’n verkeerde beeld gee van hoe dinge meer as 100 jaar gelede daaraan toe was.
Nee, sal Tinus le Roux jou antwoord. Dit laat die geskiedenis eerder weer lewe, dit maak die wêreld van meer as ’n eeu gelede weer lewendig vir die belangstellendes van vandag.