Die Damaskusoomblik waarin hy besef het hy moet hom vir die afstigting van die Wes-Kaap van die res van Suid-Afrika beywer, was in die NG Kerk in Wellington, sê Phil Craig aan Murray La Vita.
“Ons in die Wes-Kaap is in ’n verhouding met die res van Suid-Afrika waarin ons mishandel word – hulle is soos ’n eggenoot wat boelie en domineer en glád nie belang stel in wat ons wil hê nie. Hoekom sal ons dan in die verhouding wil bly?”
Aan die woord is Phil Craig (50), een van die stigterslede van die Cape Independence Advocacy Group (CIAG).