Dit is vyf weke sedert 'n kameelperd die veld- en marinegids Nicole Panos in die Kuleni-wildpark naby Hluhluwe aangeval het. Haar 16 maande oue dogter, Kaia, is dood aan haar beserings, die driejarige Kayden het drie skedelbreuke gekry en Nicole is sedertdien van haar middellyf af verlam, met verskeie ander beserings. Sy vertel vir die eerste keer haar verhaal aan Hanlie Retief.
"Dit was tjoepstil die middag in die bos. Ek het harde hoefklappe op die grond gehoor, en toe ek omdraai, sien ek sy hardloop na my toe, sy kom direk vir my, haar kop laag, en die volgende oomblik toring sy oor ons, ek sien haar gesig en hoe haar pote oplig... dis die laaste beeld in my kop.
“Toe ek bykom, was Kayden ’n entjie van my af, en ek skree vir hom run!, maar sy gaan vir hom, hy krul op in ’n balletjie en hou sy kop vas en toe is sy op hom . . . en ek verloor weer my bewussyn, ek dink dit was te veel vir my om te sien.