Mel Viljoen, die mees omstrede huisvrou in kykNET se Die Real Housewives van Pretoria (RHOPTA), vertel aan Hanlie Retief hoekom sy die feeks van die reeks geword het.
Buiten ’n kuggie wat sy pas in Miami opgetel het, is als vanoggend bruisend wel met Mel hier in Mammonland.
Silver Lakes se huisvroutjies gee haar steeds die ritteltits, en dis nou wel effe meer stywelip hier in Woodhill Estate, maar dis darem nie so stowwerig soos in Silver Lakes nie. Hier blaas hulle die blare van die greens, af, kan jy glo, sê Peet, en elke oggend steam clean hulle die sypaadjies, sê Mel terwyl ons verby palmbome en haar “fab silver bullet” Porsche opstap na die marmervoorportaal van hul Marokkaanse villa.