Hy hoop sy jongste boek help mense wat gefrustreerd is en met reg kwaad is oor waar ons land vandag is, om sake beter te verstaan, sê die bekroonde joernalis en skrywer Pieter du Toit aan Murray La Vita.
Die fokus van die onderhoud met Pieter du Toit (43) is The ANC Billionaires: Big Capital’s Gambit and the Rise of the Few, sy jongste boek wat pas verskyn het. Dit is ’n boeiende en uiters insiggewende blik op gebeure wat ongekend is in die wêreldgeskiedenis en wat bepalend was vir die aard van die samelewing waarin ons as Suid-Afrikaners vandag leef.
Die waarde van die boek lê veral daarin dat Du Toit diepgaande onderhoude gevoer het met mense wat destyds nou betrokke was by die gebeure, insluitend Trevor Manuel, Jay Naidoo, Clem Sunter, Jeremy Cronin, Bobby Godsell, Theuns Eloff, en veral wyle Michael Spicer, ’n voormalige direkteur by Anglo American wat ’n sentrale rol gespeel het in die pogings van groot kapitaal om nader aan die ANC te beweeg.