Sy is daar om die mense van Johannesburg en nie persoonlikhede te dien nie en sal ’n inklusiewe benadering as burgemeester volg wat die sienings van die baie partye in ag sal neem wat die inwoners van dié stad verteenwoordig, het dr. Mpho Phalatse aan Gert van der Westhuizen gesê.
Kort nadat sy op 7 November 44 jaar oud geword het, het dr. Mpho Phalatse van die DA ’n ietwat ongewone verjaarsdaggeskenk gekry: Sy is verkies tot burgemeester van Johannesburg.
Dit is ’n amp wat baie mense sal afskrik. Nie net is Suid-Afrika se grootste stad propvol uitdagings en skynbaar onoplosbare probleme nie, die nuwe metroraad is die produk van ’n koalisie wat volgens waarnemers die kiem van onstabiliteit en ondergang met hom saamdra. As dit nie uiteenspat nie, sê die skeptici, kan dit die regering van die stad baie moeilik en selfs onmoontlik maak.