Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Om ’n lewe te maak deur te doen waarvan ek hou. Min mense het die voorreg.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
As ek elke oggend kan opstaan met hoop en ’n toekomsvisie en dit met my geliefdes deel.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Optimisties.
Wat is jou gunstelingberoep?
Een waarin ek myself eerlik kan uitleef en ’n bydrae kan lewer.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My huis – dis veel meer as net ’n dak oor my kop. Dis ’n plek van geborgenheid vir my hele gesin.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My vrou, Anzel.
Wat is jou gunstelingreis?
Diep in die bosse van Suidelike Afrika sonder te veel mense, met nuwe plekke om te ontdek en ongerepte kampeerplekke in rivierbeddings om in te oornag.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
My geesdrif.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
By die geboorte van my kinders.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Ongevoelige, aanstellerige mense.
Wat is jou grootste vrees?
Hopeloosheid.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek bestee heeltemal te veel geld op my avontuurmotorfiets.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Sjoe, “verag” is ’n baie sterk woord – soos “haat”. Daar is mense waarvan ek nie hou nie, maar ek is ongemaklik met “verag”.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Die kere wat ek – uit onkunde – nie genoeg tyd saam met mense deurgebring het wat dit nodig gehad het nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Wiskundige aanleg.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Iewers (veilig) op die platteland, met al die gerief van die stad binne ’n 15 minute-helikopterrit?.?.?. en ’n mooi stranduitsig.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Generasie ná generasie wat verval in ’n spiraal van onkunde, wat hulle oorlaat aan die seer van die noodlot.
Van watter eienskap in ’n man hou jy die meeste?
’n Man wat sy krag gebruik om sy medemens te beskerm, hul drome en ambisies te ontwikkel en hulle bystaan om selfstandig te wees – al is dit nie tot voordeel van homself nie.
Van watter eienskap in ’n vrou hou jy die meeste?
Vroue beskik oor verstommende wysheid en insig. Dit maak hulle die samelewing se skeppers en rigtingwysers.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
My vinnige mond. Ek praat soms te gou sonder om my woorde te weeg.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Die bitter teensinnigheid om ’n ander jou van sy saak te laat oortuig.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Hulle aanvaar my, ten spyte van my tekortkominge.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Die Skim?.?.?. jy sien hom nooit nie, jy hoor net van sy goeie dade. Dit getuig van ’n onselfsugtige nalatenskap.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Antjie Krog. Haar manier om met woorde te dans, het my nog altyd aangegryp.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Ek het grootgeword in ’n era waarin al die sogenaamde “helde” voete van klei gehad het. Ek weet eerlikwaar nie.
Wie is jou helde in die ware lewe?
My ontslape pa was ’n sagmoedige reus en liefdevolle kryger.
Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?
My ma.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Beïnvloeding op sosiale media. Daar bestaan níks meer verwyderd van die werklikheid nie.
Wanneer vertel jy leuens?
Vir myself, wanneer ek my begroting uitwerk.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
“Absoluut.”
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek sou graag met kuite gebore wou wees.
Wat is jou gunstelingname?
My kinders s’n: Danielle, Kayla en Nico.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Rustig in my slaap langs my vrou, kort ná my 95ste verjaardag.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as ’n mens of ’n ding, wat dink jy sal dit wees?
Een van my huiskatte.
Wat is jou motto?
As jy elke oggend ’n bewustelike keuse doen om positief en aandagtig te wees, sal jy lewenslank die vrugte daarvan pluk.