“Ek kan net nie verby ’n ou kar ry nie,” sê Willem Pretorius oor sy liefde vir wrakke en rygoed met die roes van die lewe en die duike van dié rowwe land in hul pantser.
Karre soos die ou wit Mercedes uit die 1980’s langs ’n Vrystaatse grondpad op die voorblad van sy boek Iewers êrens en leë, vervalle swembaddens op klein dorpe het sy handelsmerk geword.
“Ons het iewers heen gery, toe staan hy langs die pad. Hy’t seker gebreek, toe’t die ou maar gestap of wat ook al, maar toe ek hom paint toe kan ek hom ruik,” vertel hy oor die Merc.