So ’n paar jaar gelede het daar op Stellenbosch ’n gesprek plaasgevind tussen Njabulo Ndebele en Homi Bhabha, albei gerekende denkers en skrywers. Hulle het gepraat oor “Humanity in Troubled Times,” met die sielkundige Pumla Gobodo-Madikizela.
Wat my van dié gesprek bygebly het, is ’n opmerking van Ndebele na aanleiding daarvan dat daar dikwels na dinge op ons kontinent as stukkend verwys word. Ndebele het egter aandag gevra vir die feit dat daar talle mense is wat, ondanks beperkte middele, met vindingrykheid en inisiatief goed regmaak. Sy vertellinge hieroor het my met die indruk gelaat hoe belangrik dit is om ’n kultuur van herstel te versterk.
Maar, sou ons kon vra, hoe lyk so ’n kultuur van herstel, so ’n etos van regmaak? En watter bronne sou ons kon benut uit ons kulturele en godsdienstige tradisies om aan ’n etiek, politiek en teologie van omvattende herstel gestalte te help gee?