‘O oriens” is die Latynse openingswoorde van een van die sewe sogenaamde “Groot O-antifone”.
Hierdie antifone word in sommige kerklike tradisies se liturgieë as deel van die aandgebede tydens Advent gesing. Elkeen van dié gebede begin met die uitroep “O”: “O Sapientiae” (O Wysheid), “O Adonai (O Heer), “O Radix Jesse” (O Spruit uit Isai), “O Clavis David” (O Sleutel van Dawid), “O Oriens” (O Môrester), “O Rex Gentium” (O Koning van die volke) en “O Emmanuel” (O “God met ons”).
Van oos na wes gelees vorm die eerste letters van die Messiaanse titels in hierdie aanroepe die akroniem ERO CRAS, wat geïnterpreteer kan word as “Ek sal môre daar wees” of “Ek is die toekoms”. Dié verwysing pas by die tema van Advent – die kerklike tyd wat fokus op die wag op die God wat in Christus na ons gekom het, steeds kom en weer sal kom.