In sy boek Art and Faith: A Theology of Making (2020) merk die kunstenaar Makoto Fujimura – in ’n hoofstuk met die opskrif “The Journey to the New Through Christ’s Tears” – op dat hy elke jaar tydens die kerklike seisoen van Lydenstyd Johannes 11-12 lees en oordink. En elke keer spreek die gedeelte oor Marta, Maria en hul broer Lasarus opnuut tot hom as ’n storie van rou, dood, klag en opstanding.
In 2009 is Fujimura gevra om kunswerke te skep om die vier evangelies te belig as deel van ’n boekprojek wat met die 400-jarige herdenking van die King James-vertaling van die Bybel saamgehang het. In ’n poging om sy verbeelding te fokus vir dié omvattende projek van meer as 250 werke, het Fujimura as die oorkoepelende tema die kort teksvers met net twee woorde in Engels gekies: “Jesus wept” (Johannes 11:35).
Fujimura is veral geïnteresseer in die ontmoeting van Jesus met die susters Marta en Maria in Betanië nadat hul broer Lasarus gesterf het. Veral treffend vir Fujimura is hoe Jesus reageer as hy Maria se trane sien. Jesus sê nie iets nie, maar is aangedaan en huil. Fujimura verwys dan ook na die Nuwe Testamentikus Richard Hays se opmerking: “At Bethany, the Incarnate Word of God stood wordless.”