Eerder Radio Sonder Grappies as Radio Sonder Gravitas, asseblief, weerklink die refrein nadat RSG dit gedurf waag het om wysigings aan sy programme en aanbieders in te stel.
Dat die poging tot hernuwing by luisteraars ’n ongekende stortvloed besware ontlok het, setel deels in die motief vir die skuif, naamlik dat dit hopelik ’n groter inkomste sou inbring.
Die “middel” het die “doel” geword. Eerder as dat volhoubare gehaltenuus (in Afrikaans), ondanks wat ook al, die dryfveer is. Besware sny telkens die kwessie aan dat nuus en aktualiteit – en die omvang, diepte en frekwens daarvan – aangetas word. Terwyl die rede vir RSG se bestaan, soos ander staatsradiostasies, juis is dat dit ’n draer moet wees van nuus – nuwe, relevante, verskilmakende inligting wat aspekte van luisteraars se lewens aanspreek. Goed of sleg, die nuus bepaal; daarin setel geloofwaardigheid.