Basta met vriendinne van vriendinne wat vir jou preek oor borsvoeding, natuurlike geboorte en wat jou kind moet eet. Dis nie maklik om ’n ma te wees nie – doen wat vir jou werk, skryf Carla Lang.
’n Paar maande gelede is Pops op my heup terwyl ek die leë stootwaentjie in die nou winkelgang afstoot. Natuurlik wil sy nie daarin sit nie, het dit weer verniet saamgebring. Darem kan ek die swaar babasak daarin sit. (Skoon klere vir ingeval sy ’n glipsie het; nekdoekie vir wanneer sy eet; tandesalf; doeke; melk; water; wet wipes; ’n speelding; eetding; fopspeen; doeksakkie; warm top; doekruil-mat – die ellelange lys gaan aan. Vir myself – debietkaart, karsleutel en selfoon. Dis dit.)
Pops steek heeltyd haar handjie uit om aan alles te vat. So soos ons stap, stamp sy goed van die rakke af. Ek “skies, jammer” al outomaties vir wie ook al naby staan en tel op, probeer dan weer aanbeweeg. En dis nou ook nie asof die stootwaentjie dit makliker maak nie. Ek loop kort-kort in iets vas wat uitstaan en dan moet ek weer maneuver om óm dit te kom. Intussen hou ek heeltyd ’n oog op die babasak. Bang dit word gesteel.