Spyt is ’n swak diensverskaffer, want dit kom altyd te laat. Tog gaan spyt ons enigste diensverskaffer wees as ons tot eendag wag om te doen wat ons graag met ons lewe wil doen. Dan gaan ons te oud, arm, eensaam, swak of te wat ook al wees. En spyt ook!
Op die ou end gaan die lewe oor ervarings – die regte soort. Ons mag dit nie uitstel tot eendag op ’n reëndag nie. Creedence Clearwater Revival het mos gesing “Someday Never Comes”. Ons moet gedurig goeie ervarings skep wat ons lewe met die Here se soort hoop, geloof en liefde vul. Hiervoor benodig ons nie supergeloof of baie geld nie. As die Here ons primêre Lewensverskaffer én ons voltydse Herder is, is ons reeds oor al die nodige hekkies. Dan staan niks in die pad van ’n goed geleefde lewe waar spyt geen plek het nie . . . behalwe onsself.
Ons moet doelbewus “onvergeetlike oomblikke” bymekaarmaak wat ons eie lewensbeker en dié van ander voor God volmaak. Sulke oomblikke breek aan wanneer ons stil-tevrede aan die Here se voete tot rus kom. Dit gebeur wanneer ons ’n stukkie brood op iemand se tafel sit en iemand se dag omraam met hoop . . . En ons besittings reg geniet . . . En ons talente tot voordeel van ander gebruik . . . En God se skepping mooi oppas . . . En ons familie en vriende met oorgawe liefhet. En wanneer ons elke skewe snytjie brood op ons tafel feestelik eet.