Voorbladfoto-byskrif: Die onderwyseresse wat vanjaar hul kragte by die Laerskool Excelsior in Port Elizabeth ingooi, is mej. R. Fourie en mevv. M. de Jager, H. van der Merwe en S. Zwiegelaar.
Uitverkopings volop: Inwoners van Port Elizabeth kan nou ’n slag slaan soos nog nooit tevore nie. Die stad se winkels is aan die uitverkoop en ’n mens kan feitlik alles teen lekker lae pryse koop. Die laaste week in Januarie is uitverkoopmaand in dié stad en die meeste winkels verkoop byna alles wat hulle het teen lae pryse.
Gassoliste tree op: “Ek gaan speel. Dit het vir Pappa so baie beteken,” sê Isolde Kritzinger (19), dogter van mev. en wyle dr. C.C. Kritzinger na aanleiding van die uitnodiging om eerskomende Dinsdag in ’n etensuurkonsert as gassoliste saam met die Nasionale Simfonie-orkes van die S.A.U.K. op te tree. Die vraag het ontstaan of sy wel ná haar vader, bestuurder van die Sybokhaarraad, se skielike dood verlede week, na Johannesburg sal gaan. Wyle dr. Kritzinger was sy dogter se grootste aansporing, veral in die laaste vier jaar vandat sy as pianiste opgang begin maak het.