“Kyk in sy oë. Daar is niks onderduims in hierdie leeu-oë nie,” sê Gerhard de Lange, neutbruin sterkgeboude man van die veld, wat kyk én dink soos ’n leeu.
“Sylvester is ’n ongelooflike leeu. Sy instinktiewe nomadiese lewensfase waarin hy was, het hom die bekendste leeu op die planeet gemaak en baie mense se lewensuitkyk teenoor leeus ten goede laat verander.”
De Lange is bestuurder van Kuzuko Lodge waar Sylvester deesdae só gelukkig tuis is dat hy net daar bly.