Die dag toe die DA met die onderwyseres Elana Barkhuizen “begin sukkel het”, was die dag toe dié party se steun op Schweizer-Reneke by die agterdeur uit is.
Die DA het Woensdag 760 stemme (of 53%) van hul steun op dié dorp in Noordwes verloor, ’n feit wat baie inwoners direk toeskryf aan die manier waarop die party die hele kwessie oor Barkhuizen se beweerde rassistiese optrede gehanteer het.
Boonop, sê Coenraad Herbst, die plaaslike DA-raadslid, het sy party alle waarskuwings dat kiesers op die dorp boos is oor die gebeure in die wind geslaan. Die gevolg is dat kiesers Woensdag die party swaar gestraf het.