Die DA se verlies van byna ’n halfmiljoen stemme in Woensdag se verkiesing is die gevolg van ’n mislukte strategie en dit is duidelik dat ’n klompie van die party se senior amptenare se posisies in gedrang is in die soeke na sondebokke.
’n Ontleding van die party se uitslae maak dit duidelik dat die party nie net misluk het in hul pogings om swart kiesers te lok nie, maar ook van hul steun onder minderheidsgroepe prysgegee het – in baie gevalle deur hul aktief te vervreem deur ondeurdagte uitsprake.
Terwyl die ANC net so ’n nagmerrie-dag by die stembus beleef het, kon die DA glad nie munt slaan uit die regerende party se probleme nie. Trouens, pres. Cyril Ramaphosa se gewildheid het die party duur te staan gekom – veral in Gauteng en die Wes-Kaap. ’n Ontleding van stempatrone toon dat tot soveel as 200 000 kiesers provinsiaal vir die DA gestem het, maar nasionaal vir die ANC. In die Wes-Kaap kan die getal tot 70 000 wees (sien hier).