Ernstige gevolge vir lede van die Verkiesingskommissie (OVK) en veranderings aan hoe Suid-Afrikaners stem, is op pad nadat die OVK die afgelope week nie kon verseker dat kiesers slegs een keer stem nie.
Rapport het vasgestel dat die spanning in ’n stadium so hoog geloop het ná Woensdag se algemene verkiesing dat politieke leiers die proses moes “oorneem” omdat die OVK self nie antwoorde kon verskaf op vrae nie oor onder meer onbevoegde amptenare, kiesers wat meer as een keer gestem het, ink wat van vingers verwyder kon word en ’n gebrek aan bewyse in ID-boeke of op ID-kaarte dat mense reeds gestem het.
Bronne in die OVK het wel Saterdag aan Rapport gesê die klagtes deur ’n groep klein partye wat misluk het in hul pogings om parlementsetels te verower, het nie veel om die lyf nie – die partye het nie die vermoë, voete op die grond of hulpbronne om met genoegsame bewyse van omvattende kiesbedrog vorendag te kom nie.