’n Bejaarde, sieklike en gebroke eerw. Aiken Zondo het Vrydag ’n nuwe huis van oudpres. Jacob Zuma ontvang vir die prys wat sy seun Andrew, die Amanzimtoti-bomplanter, meer as 30 jaar gelede aan die galg betaal het.
By die oorhandiging van die huis in Lamontville in Durban het Zuma, as deel van sy stemwerwingsveldtog, gespog met sy aandeel in die stuur van die span MK-kaders wat die bom in 1985 in die Sanlam-sentrum geplant het – die eerste regstreekse ANC-aanval op burgerlikes.
Zuma het jong ANC-aktiviste aangemoedig om soos Andrew Zondo, wat tien maande ná die bomaanval gehang is, ook bereid te wees om hul lewens te verloor in die stryd om bevryding. “Ons het politieke vryheid gekry, maar nog nie ekonomiese vryheid nie.