Badkamers van ouds het nie veel aandag geniet tydens die ontwerp en versiering van huise nie. Die badkamer is beskou as ’n praktiese vertrek, meestal sonder enige unieke aspekte. Manual Brazao, die ontwikkelaar van ’n treffende, moderne woning in die Eagle Canyon-gholflandgoed in Johannesburg, het besluit om die huis se badkamers vanuit ’n ander oogpunt te benader. Sagte kleure, tydlose afwerkings en klassieke lyne is regdeur gebruik.
Brazao glo dat die badkamer nie net ’n praktiese vertrek moet wees nie, maar ’n vertrek waar jy jou siel kan voed aan die einde van ’n lang dag. Hy het die perfekte balans verkry tussen praktiese en tydlose, elegante afwerkings – ontwerp, vervaardig en geïnstalleer deur Dezign A Door.
Brazao het besluit op ’n neutrale kleurskema van kraakvars wit, sagte room, warm bruin sowel as dieper en ryker kleurspatsels. Hierdie kleurkombinasies word baie doeltreffend gebruik om ’n rustige, tydlose en elegante gevoel te skep. Verskeie skakerings van dieselfde kleur word regdeur die badkamers herhaal, van die badkamerkassies, teëls en verf tot in die dekor. Dit is ’n baie slim idee, want sodoende verseker Brazao dat die gekose kleurskema regdeur die huis vloei.