
Bloemskou is die enigste skou in die land wat nog ’n suiwelproduk kompetisie aanbied.
Daar is vanjaar ’n ongelooflike 289 inskrywings van produkte vanaf 16 vervaardigers van oor die land heen ontvang. Vervaardigers sluit in van die grootste kommersiële vervaardigers tot die kleiner mikro-vervaardigers.
Suiwelmaatskappye kon in 16 klasse inskryf wat onder meer botter, Goudakaas, Cheddarkaas, spesiale- en eksotiese kase, ’n groot verskeidenheid melkprodukte, en bok- en skaapmelkprodukte insluit.
Die vlak en proses van beoordeling is van die beste in die land en inskrywings word op presies dieselfde manier anoniem verpak en dan aan die beoordelaars gegee om te beoordeel.
Die 20 beoordelaars van reg oor die land heen het Woensdag (01/03) die produkte beoordeel.
Die beoordelaars is almal bekwaam en sluit mense van die departement van landbou, kenners met meer as 30 jaar se ondervinding in die bedryf, sowel as ’n paar gesoute sjefs waaronder Lesley Jacobs, direkteur van die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging, Marie Lombaard van De Oude Kraal, asook Deon Pastor, sjef van Sun International in.
Besoek die 140 ste Bloemskou vanaf 27 April tot 6 Mei om uit te vind wie die wenners in dié kompetisie is.
Vir meer inligting rakende Bloemskou 2023, besoek die webwerf bloemskou.co.za of skakel 051-448-9894.