
Die liefdadigheidsorganisasie Food4Kidz in Bloemfontein het ’n skenking van R5 000 van Media24 se #1000ActsofKindness-projek ontvang.
Food4Kidz is deur Bloemnuus, ’n plaaslike koerant van Sentraal24 en deel van Media24, hiervoor benoem.
Food4Kidz skenk sedert November 2011 gesonde, gekookte maaltye aan leerlinge by skole in die stad. Vir die meeste van dié kinders is dit hul enigste maaltyd van die dag.
André de Jager, trustee van Food4Kidz, sê hulle voorsien nou kos aan meer as 240 kinders in vyf skole.
By die Laerskool Bloemfontein ontvang 70 leerlinge daagliks tydens pouse ’n gekookte ete van Food4Kidz.
Tineke Vergottini, ’n onderwyser aan dié skool wat help om die kos uit te deel, sê die kinders geniet dié kos.
“Die voedingsprojek hier het in 2011 begin met tien leerlinge. Veral sedert Covid-19 het die getalle kinders wat die voedselhulp ontvang, baie meer geword,” sê sy.
Klasonderwysers identifiseer die kinders, waarna ouers skriftelik toestemming moet gee dat die kinders kos mag ontvang.
Die kos word daagliks vars gemaak deur Trudie Venter, Flip Bornman en Magdaleen Mto in ’n kombuis op die Bloemskou-terrein.
“Ons gee elke dag vir kinders ’n gekookte ete met vleis. Ek meng sowat tien soorte groente in die kos sodat ons weet dit is gesond en voedsaam,” sê Venter, wat talle van die aflewerings behartig.
By elke gekookte ete is ’n slaai, en een keer ’n week kry die kinders ingelegde vrugte en vla.
Ander skole wat by dié projek baat, is die Hoërskool Bloemfontein, die Laerskool Sand du Plessis, die Laerskool Dr. C.F. Visser (wat een keer ’n week ’n ete van Food4Kidz ontvang) en die nuutste skool, die Laerskool Onze Rust.
“Van die kinders sê tannie Trudie is ’n Masterchef,” sê Vergottini.
Ondernemings kan betrokke raak met die Adopt-A-Meal-Day-program van Food4Kids. Só kan ondernemings ’n skenking doen en personeel kan help om die kos te maak, op te skep en uit te deel.
Dit kos R125 om ’n week lank vir een kind kos te gee.
Vir meer inligting, besoek die Facebook-blad Food4Kidz.