Belê rég met huis se opknap

akkreditasie

Eiendom was nog altyd ’n voorkeur-beleggingsopsie in onsekere ekonomiese tye en dit is normaal vir mense om waarde tot hul beleggings te wil toevoeg. Huisopknappings en -opgraderings is een manier waarop jy jou eiendom se waarde aansienlik kan verhoog en jou eie leefomstandighede kan verbeter. Daar is egter ’n paar faktore om in ag te neem en slaggate wat jy moet vermy, sê Claude McKirby, medeprinsipaal van Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Kaapstad se suidelike voorstede. 

’n Slim huisopknappingsprojek kan aansienlike waarde tot jou bestaande eiendom toevoeg – wees net versigtig vir die slaggate. Foto: Verskaf

Daar is al hoe meer mense wat deesdae eiendom kies om persoonlike welvaart te skep en hulself te beskerm teen die waardevermindering van ons geldeenheid, onbestendige marktoestande en die onsekerheid wat die Covid-19-pandemie veroorsaak.

’n Huisopknappingsprojek is ’n vinnige manier waarop jy waarde tot jou eiendom kan toevoeg en ’n beter leefomgewing vir jouself – of wie ook al in die huis woon – te skep.

Nogtans is dit belangrik om te onthou dat alle opgraderings nie gelyk is nie. Die pandemie het nie net ’n uitwerking op ons beleggingsmarkte gehad nie, maar het ook mense se behoeftes, prioriteite en lewenswyses vir die voorsienbare toekoms aansienlik verander.

Dis daarom belangrik dat jy hierdie faktore in ag neem ten einde op jou huisopknappingsprojek en die opgraderings wat jy beplan, te kapitaliseer.

Sekere opknappingsprojekte is eenvoudig net nie die koste en ongerief werd nie – behalwe as jy dit suiwer doen vir persoonlike gerief en leefstylvoorkeure en jy beplan om nog vir ’n aansienlike tydperk in die eiendom aan te bly.

Die verhouding wat ons met ons leefruimtes het, het sedert Maart verlede jaar aansienlik verander.

Ons het almal sedertdien tyd gehad om te reflekteer en te herevalueer hoe ons in ons huise leef.

Ons gaan die impak van die pandemie waarskynlik nog vir ’n paar jaar voel.

Die afgelope jaar het ook die belangrikheid van multifunksionele huise en om meer selfonderhoudend te wees beklemtoon.

’n Huis se buite-area is nou belangriker as ooit. Optimaliseer hierdie ruimte en rig dit in sodat jy daar kan uitspan. Foto: Verskaf

Aan die begin

Die twee hooffaktore wat jy moet oorweeg as jy ’n huisopknapping beplan, het egter onveranderd gebly: Jy moet eerstens vasstel wat jy kan doen om jou huis so gemaklik en gerieflik as moontlik vir die onmiddellike toekoms te maak.

Tweedens moet jy oorweeg watter opgraderings maak die meeste finansiële sin as jy die eiendom weer gaan verkoop.

Hoewel daar heelwat huiskenmerke is wat al reeds voor die pandemie bo-aan voornemende kopers se wenslysies was – soos oopplan-leefruimtes, baie natuurlike lig en energiebesparende toestelle – is daar nou ook ’n handvol neigings wat as ’n direkte gevolg van die pandemie kop uitgesteek het.

Hier is ’n oorsig van enkele van die huisopknappings en opgraderings wat waarskynlik ’n goeie opbrengs op belegging in die voorsienbare toekoms sal beteken:

Tuiskantoor
'n Tuiskantoor. Foto: Unsplash/Collov Home Design

Skep ’n tuiskantoor

Daar is op die oomblik steeds baie mense wat van die huis af werk, maar baie maatskappye het ook na ’n hibriede werkmodel oorgeskakel waar daar van werknemers verwag word om net op sekere dae kantoor toe te gaan.

’n Gemaklike tuiskantoor is dus nou hoog boaan baie kopers se wenslysies. As jou huis nie genoeg ruimte of die regte vloerplan het om ’n tuiskantoor te akkommodeer nie, kan jy egter met ’n tikkie kreatiwiteit en beplanning ’n ongebruikte area in jou huis in ’n funksionele kantoorhoekie omskep.

Buite-area
'n Buite-area van 'n huis. Foto: Unsplash/Carl Hunley

Blik op buite-area

Nadat die meeste van ons die grootste gedeelte van die jaar tuis deurgebring het, is dit geen verrassing nie dat huiseienaars nou na meer opsies vir leef, onthaal, vermaak en ontspanning in hul eie huise op soek is.

’n Buite-area by jou huis is nou waardevoller as ooit, dus kan jy meer waarde tot jou eiendom toevoeg deur die funksionaliteit en voorkoms van daardie ruimte te verbeter.

Daar is baie maniere waarop jy dit kan doen, afhangende van jou begroting natuurlik.

Oorweeg ’n afdak of skadunet; bou ’n buitelug-kombuis; skep ’n goeie vloei van binne na buite met behulp van stapel- of vensterdeure; of rig ’n pergola langs die swembad in.

Dit is ook slim om die tuin op te ruim en netjies te maak en ’n paar rand op die tuinuitleg te bestee ten einde die ruimte meer verwelkomend te maak.

Kombuis
'n Kombuis. Foto: Unsplash/Watermark Designs

Hart van die huis

Die kombuis word beskou as die hart van die meeste huise en was nog altyd ’n prominente vertrek. Die Covid-19-pandemie het egter die belangrikheid van hierdie vertrek opnuut benadruk.

Nogtans, voornemende kopers fokus nie net meer op die voorkoms van die kombuis en of die krane outyds is nie; hulle kyk ook na die kombuis se funksionaliteit as ’n plek waar meer maaltye per dag gekook moet word, en of daar genoeg bêreplek is.

Onderbenutte ruimtes

Die meeste huise het ten minste een ruimte of vertrek wat amper nooit benut word nie. Die feit dat verskeie gesinslede in baie gesinne nou gedurende die dag saam tuis is, beteken dat dit sin maak om al die ruimte in jou huis ten volle te optimaliseer.

Keldervertrekke, solders, spaarkamers of motorhuise kan maklik in goed soos ’n speelkamer vir die kinders, ’n tuiskantoor, gimnasium of verblyf vir gaste of ander familie omskep word.

Slim tegnologie

Die feit dat ons deesdae meer tyd in ons huise bestee, het gelei tot ’n groter behoefte aan slim toestelle en hoëvlaktegnologie in ons huise, om alles te fasiliteer – van ’n meer omgewingsvriendelike leefomgewing tot vermaak.

Deur hierdie tegnologie reg te installeer ten einde ’n geïntegreerde reeks van dienste te kan bied, sal nou, sowel as in die toekoms as jy verkoop, waarde tot jou eiendom toevoeg.

Gesondheid is hoofsaak

Die pandemie het beslis ’n groter bekommernis oor die oordrag van siektes en kieme tot gevolg gehad.

Daarmee saam het dit ook vir ’n groter vraag na handvrye-toestelle en toebehore, sowel as goed soos lugsuiweraars in die huismark gesorg.

Hou net in gedagte dat selfs ’n klein taak soos om die krane en beligting vir jou gastebadkamer te kies, ’n verandering kan maak – nou, sowel as in die toekoms.

Opknappings
Opknappings. Foto: Unsplash/Brina Blum
Só sê kenner oor opknappings

Die veteraan-argitek en bouer Tom Smuts-Erasmus, uitvoerende hoof van All Projects, waarsku dat daar ’n hele aantal faktore is wat jy moet oorweeg voordat jy op die omvang van jou opknappingsprojek besluit – veral as jy beplan om ’n bietjie meer te doen as om net te verf.

Vra jouself die volgende vrae voordat jy begin:

  • Is jou voorgestelde opknappingsprojek in lyn met die plaaslike owerhede se munisipale regulasies?
  • Hoe lank beplan jy om in hierdie huis te woon?
  • Is jy bereid om op ’n sogenaamde bouperseel te woon terwyl die opgraderings gedoen word?
  • Het jy genoeg tyd en energie om toesig te hou oor bouers en kontrakteurs en die algehele planne te oorsien?

“Dit is ook uiters belangrik dat jy jouself teen een van die grootste slaggate beskerm, naamlik om te oorkapitaliseer.

“Die beste manier om dit te verhoed is om te bepaal wat die waarde van jou eiendom tans is, sowel as wat die gemiddelde eiendoms- en verkoopspryse in jou woonbuurt is. Die meeste woonbuurte het oor die algemeen ’n prysplafon, wat beteken daar is ’n sekere prysdrempel wat kopers en huurders bereid is om te betaal.”

Hy voeg by dat die spanning en ongerief van ’n huisopknappingsprojek baie keer vermenigvuldig as die huiseienaars nie mooi navorsing doen voordat hulle ’n spesifieke kontrakteur aanstel nie. Jou projek kan óf veel langer neem as wat jy beplan óf lelik skeefloop.

“Maak seker dat jy ’n gevestigde maatskappy aanstel met goeie vakmanne wat al lank die werk doen – al moet jy ’n bietjie meer opdok as vir die kontrakteur wat klein, minder ervare en aansienlik goedkoper is.

“As die projek skeefloop, kos dit jou op die ou einde baie meer geld – dít, en jou verstand.”

Hy stel voor dat huiseienaars rondvra vir verwysings vanaf mense wat hulle goed ken en vertrou. Vra ook of jy voormalige kliënte se voltooide projekte kan sien.

Boukontrakteurs se ondernemings is geskoei op hul reputasie.

“Sodra jy jou huiswerk klaar gedoen en op ’n betroubare kontrakteur besluit het, moet tog net nie die stap ignoreer wat jou hele projek in die wiele kan ry nie, naamlik munisipale goedkeuring,” sê hy.

“As jy slegs ’n paar afwerkings gaan verander, nuwe kaste gaan inbou of jou vloere vervang, is munisipale goedkeuring nie nodig nie. Enige strukturele veranderings – selfs al wil jy ’n muur uitbreek om ’n oopplanruimte te skep – kan slegs voortgaan as die stadsraad die planne goedgekeur het.”

Smuts-Erasmus waarsku dat huiseienaars liefs nie die kans moet waag om bouwerk te doen sonder munisipale goedkeuring nie. Dit kan nie net frustrerend wees nie, maar ook duur.

’n Stop-opdrag word uitgereik vir enige ongematigde bouwerk en dit sal nie kan voortgaan totdat die plangoedkeuring verkry is nie. ’n Inspekteur sal gereeld besoek aflê om te verseker dat die bouwerk nie voortgaan nie, verduidelik hy. Indien dit voortgaan ten spyte van die stop-opdrag, kan ’n dagvaarding uitgereik word vir die eienaar om in die hof te verskyn.

“Jy kan ’n boete opgelê word of selfs beveel word om die bouwerk af te breek – om nie eens te praat van die probleme wat verkopers later kan ervaar as die bouplanne vir hul huis nie pas by dié op rekord by die munisipale kantore nie.”

Daarbenewens gaan die versekeraar ook enige eise afkeur wat verband hou met bouwerk wat nie goedgekeur is nie – soos ’n lekkende dak.

“As die tyd kom wat die huis verkoop moet word, kan enige opgraderings wat nie goedgekeur is nie of bouplanne wat nie by die bestaande struktuur pas nie, die transaksie ophou of dit uiteindelik kelder.”

Instandhouding: Berei jou huis voor vir die nuwe seisoen

Krap jy dalk kop oor huisinstandhouding en op watter areas jy moet fokus?

Die span by die platform Leadhome meen jou jaarlikse begroting vir instandhouding moet gemiddeld 1% van die waarde van jou eiendom beloop.

As jou huis R1 miljoen werd is, moet jy gemiddeld R10 000 per jaar daarop bestee.

Dié begroting moet items insluit soos skoonmaak- en tuindienste, herstelkoste en voortgesette huisverbeterings.

Leadhome het hierdie kontrolelys opgestel:

Weeklikse take

  • Hark enige blare op wat om die huis lê en tel die rommel op.
  • Stofsuig jou matte minstens twee keer per week deeglik, sodat die stof nie opgaar nie. 

Blik op maandelikse take

  • Verwyder enige blare wat jou geute kan blokkeer en maak dit skoon.
  • Hou ’n ekstra blik verf in die motorhuis vir as daar verf is wat op plekke of mure afdop. 
  • Gaan jou gloeilampe in en om die huis na en vervang dit self.
  • Maak die suigwaaier in die kombuis self skoon.
  • Gaan jou krane na vir lekplekke. 
  • Kyk mooi vir enige muf- of natterige plekke in en om die huis en doen dadelik iets daaromtrent.

Elke seisoen

  • Berei jou huis voor vir die nuwe seisoen:
  • Gaan jou deure en vensters na vir enige verwering gedurende die wintermaande en herstel of vervang dit.
  • Maak enige stof of modder skoon wat rondom jou lugreëling se kompressor saamgepak het. ’n Gesertifiseerde tegnikus behoort dit gereeld na te gaan.
  • Spuit jou buitemure skoon en verwyder enige blare en ander natuurlike materiaal wat op jou dak en in jou geute beland het.

Jaarlikse instandhouding

  • Verf jou huis buite om indien nodig.
  • Verseker dat die waterdruk reg is en gaan die toestand van die geiser na.
  • Beskerm jou marmer- of granietwerkblaaie met ’n laag waks.
  • Kry ’n plaagbestrydingsmaatskappy om ’n roetineondersoek te doen.
  • ’n Septiese tenk moet jaarliks skoongemaak word.
  • Kry ’n gesertifiseerde maatskappy om jou kaggel en skoorsteen skoon te maak.
  • Laat jou matte en gordyne professioneel droogskoonmaak.

* Vertaal, verwerk en verkort vanaf www.leadhome.co.za. 

Stofsuig
Stofsuig matte twee keer per week. Foto: Unsplash/Katja Bayer


GEBORG: Huisopknappings en instandhouding

Oorweeg gerus om die volgende diensverskaffers te gebruik:

New Look Window Systems is in 2006 in Kaapstad gestig om die voordele van meer as 25 jaar se ervaring in die vervaardiging en installering van uPVC-vensters en -deure na Suid-Afrika te bring. Ons bied ’n uitgebreide reeks REHAU uPVC-venster en-deurprodukte in ‘n wye verskeidenheid style - tradisioneel of kontemporêr - pasgemaak om by jou eiendom te pas.

Door Boys spesialiseer in motorhuisdeure. Ons bied verskeie soorte motorhuisdeure, sowel as die meganiese opgradering, diens en herstel van alle soorte motorhuisdeure. Ons professioneel opgeleide personeel sal jou ook raad gee oor die outomatisering van jou motorhuisdeur en hoe om enige foute met jou deur of die outomatisering daarvan aan te spreek. 

besig om te laai... Regstreeks
Bangladesh 0
Pakistan 188/2
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.14
-1.3%
Rand - Pond
21.36
-0.0%
Rand - Euro
18.26
-0.0%
Rand - Aus dollar
11.30
-0.0%
Rand - Jen
0.14
-0.0%
Goud
1,783.48
0.0%
Silwer
22.55
0.0%
Palladium
1,816.00
0.0%
Platinum
936.31
0.0%
Brent-ruolie
69.88
+0.3%
Top-40
64,307
-0.4%
Alle aandele
70,808
-0.3%
Hulpbronne 10
66,503
-1.6%
Industriële 25
93,791
+0.1%
Finansiële 15
13,982
+0.7%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos