Die nywerheidseiendomsmark, veral in nodusse in die groot kusgebiede, vaar tans die beste onder die drie prominente kommersiële eiendomsektore wanneer dit by koop- en verkoopstransaksies kom.
Eiendomme in dié mark in die ses groot metropolitaanse gebiede verkoop heelwat vinniger as kantore en kleinhandeleiendomme, blyk uit First National Bank (FNB) se nuwe kommersiële eiendomsmakelaarsverslag vir die tweede kwartaal van 2019, wat die afgelope week bekend gestel is.
John Loos, eiendomstrateeg by FNB se kommersiële eiendomsfinansieringsafdeling, sê die verslag ondersoek die balans/wanbalans tussen die vraag- en aanbodtoestande in die groot markte en daar word spesifiek gekyk hoe lank eiendomme in die mark bly voordat dit verkoop.