Dié proses het ses jaar lank geduur. Daar word verwag dat die land se sitrusboere al hoe meer suurlemoene gaan oes en dié bedryf kan teen 2024 tot 175 000 ton suurlemoene oplewer.
Sodra die uitvoer van Suid-Afrika se suurlemoene na China op dreef is, kan tot 25 000 ton teen 2024 na China uitgevoer word, volgens ’n verklaring deur die Sitruskwekersvereniging van Suid-Afrika (CGA). Indien dit gebeur, sal Suid-Afrika dit regkry om meer suurlemoene uit die Suidelike Halfrond na China uit te voer en só Argentinië en Chili in te haal as die grootste uitvoerder uit dié halfrond.
Die ondertekening van die protokol deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, is onlangs afgehandel. Dit kan sorg vir R325 miljoen se inkomste uit sitrusuitvoer en altesaam 800 werkgeleenthede.