Niemand kan vir ’n melkboer van korter nagte en vroeg opstaan vertel nie.
’n Intensiewe melkboerdery waar koeie drie keer per dag gemelk word, verg heeltydse aandag – hetsy dit nou naweke, vakansietye of Kersfees is.
Daarbenewens is die suiwelbedryf in Suid-Afrika ’n taai bedryf met uitdagings en klein winsmarges, wat beteken dat ’n melkboer nie kan bekostig om foute te maak nie. Die kwynende getal melkboere op eie bodem spreek boekdele van die talle kwessies waarvoor die bedryf deurentyd te staan kom.