Die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA), die organiseerders van Veritas, het aangekondig dat hulle die trofee vir die algehele kampioenwyn, bekend as die Vertex-prys, gaan hernoem na die Duimpie Bayly Vertex-prys.
’n Verklaring deur Veritas lui as volg: “Sodoende word hierdie kampioen van die bedryf en wynlegende vereer vir sy enorme bydrae tot Suid-Afrikaanse wyn, die SA Nasionale Jongwynskou en ook tot Veritas.”
Die 81-jarige Bayly was ’n legende in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en is vroeër vandeesmaand in sy huis op sy kleinhoewe buite Stellenbosch aan ’n hartaanval oorlede. Hy was onder meer president van die Kaap van Goeie Hoop-landbouvereniging (Agri-Expo) en voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging.