.

Baba Ruby vorder goed

akkreditasie
Amanda-Lea Jones met die klein bondeltjie wat verlede week deur die Helderberg Baby Saver ’n kans op die lewe geskenk is.
Amanda-Lea Jones met die klein bondeltjie wat verlede week deur die Helderberg Baby Saver ’n kans op die lewe geskenk is.

“Ons gedagtes is by die ma wat ’n dapper en liefdevolle keuse gemaak het. Mag sy vertroos word met die wete dat haar kosbare baba veilig is.”

Dít is die hartroerende woorde van Sandy Immelman, stigter van die Helderberg Baby Saver, wat nog ’n babalewe gered het.

Verlede week is Baba Ruby danksy dié alternatief vir desperate moeders ’n kans op die lewe gebied. Die bondeltjie vreugde is die agtste baba wat in die babakluis se agtjarige bestaan op hierdie wyse afgegee is.

Die Helderberg Baby Saver is gestig ná twee voorvalle van babaverlating in Somerset-Wes. Baby Amber was die eerste van die babas wat die fasiliteit geïnspireer het nadat sy op 8 Februarie 2014 deur ’n hawelose man en sy hond langs die rivier in Andries Pretoriusstraat gevind is.

Die spesiale babakluis is in ’n muur by die Choices Crisis Pregnancy Centre in Schapenbergweg ingebou en dien as ’n laaste hawe vir hulp of baken van hoop, wat die veilige verlating van ’n ongewenste baba moontlik maak. Wanneer ’n baba in die kluis geplaas word, word ’n alarm geaktiveer en aangestelde respondente, insluitend veiligheid- en noodpersoneel, kom haal die baba. Die reaksie word gekoppel aan kinderbeskermingsorganisasies soos Wandisa, wat omsien na al die statutêre prosesse, insluitend die plasing van die baba in tydelike veilige sorg, werk met die howe, die plasing van advertensies om met die ma kontak te probeer maak om ondersteuning en herintegrasie te fasiliteer, of aanneming te bewerkstellig indien niemand ná 90 dae na vore kom nie.

Moeders word dus ’n veilige, anonieme alternatief vir babaverlating gewaarborg – geen vrae word gevra nie en geen kameras is op die terrein nie.

Die Somerset-Wes-konsep is elders in die Helderberg toegepas; die Macassar Baby Saver, wat in Augustus 2020 bekend gestel is, is by Musicalaan 3 geleë.

“Hierdie is ons agtste baba deur die Saver – en die eerste een wat so vinnig inkom ná die vorige (“Yet another baby saved,” DistriksPos, 10 Maart). Ek beskou dit nie as ’n sukses nie, maar eerder ’n aanduiding van die toenemende behoefte aan hulp om meer toeganklik te wees vir alle meisies en vroue wat krisis-swangerskappe in die gesig staar.

“Die gebruik van ’n Baby Saver is ’n heel laaste uitweg – die oorblywende veilige opsie vir iemand wat afgesonder, bang en verlate voel. Ek is uiters dankbaar dat hierdie mamma (ons neem net aan dit was die ma) geweet het dat ons Baby Saver bestaan ??en elke uur van elke dag veilig en anoniem toeganklik is,” het Immelman in die lig van verlede week se voorval verduidelik.

Amanda-Lea Jones van Patch, die Helderberg-sentrum vir kinderslagoffers van seksuele mishandeling, het eerste gereageer toe die babakluis se alarm geaktiveer is. Jones sê sy was tuis en het saam met haar gesin televisie gekyk toe haar foon lui en Secure Rite Sekuriteit se nommer op die skerm verskyn. “Ek het dadelik geweet dit was vir die Saver,” het sy aangevoer. “Ek het kalm gebly, eers die regstreekse video-toevoer bevestig dat ’n baba wel in die bababoks is, en ons almal het binne sekondes gereageer. Met my aankoms het ek ’n rustige, kalm baba in die kluis gekry. Sy was wakker – en honger – maar het tevrede gelyk.”

Die dae oue babameisie is deur Jones se dogter, hul grootse ambassadeur, Baba Ruby April gedoop. Die kleinding is ná die vonds deur die GBMed Rescue-medici ondersoek en na die Helderberg-hospitaal geneem waar sy oornag deur liefdevolle personeellede versorg is.

Jones het haar reaksie soos ’n ervaring buite haar liggaam beskryf.

“Protokol skop in en jy volg outomaties die vereiste stappe wat ingestel is om die baba te beskerm en te versorg totdat dit nie meer nodig is nie. Deur die hele proses, selfs al werk jy op autopilot, is jy voortdurend bewus van wat die ma kan voel. Om ’n baba in die Saver te ontvang, is só ’n positiewe ervaring, want ons weet wat die gevreesde alternatief kon gewees het. Terselfdertyd dra jy egter die swarigheid van al die emosies wat die ma dalk kon gevoel het vandat sy die besluit geneem het om die Saver te gebruik tot dae nadat die baba herstel en in tydelike sorg geplaas is. Dit kan net beskryf word as ’n blye hartseer.”

Wandisa het ter viering van Baba Ruby se kosbare lewe op Facebook bekend gemaak dat hul span die pad saam met haar stap – “deur die komende maande en jare”.

“Jy kan op ons staatmaak vir so lank as wat dit neem om vir jou ’n vir-ewig- familie te vind,” het die inskrywing, wat verder alle rolspelers bedank het, gelui.

Immelman het verder ’n beroep op die gemeenskap gedoen: “Asseblief – as enigiemand haar in ’n krisisswangerskap-situasie bevind – moenie wag nie; soek hulp.

“Choices Crisis Pregnancy Centre is daar om te help.

“Daar is ook ’n lys van beradingsorganisasies op die Helderberg Baby Saver se webtuiste (www.babysaverssa.co.za).”

Immelman het voorts verduidelik: “Vroue wat krisisswangerskappe in die gesig staar, moet ondersteun word en nie in die steek gelaat word nie. Om hulle in hul uur van nood in die steek te laat, is wat hulle uiteindelik so desperaat kan laat voel dat hulle voel om van die baba ontslae te raak is hul enigste opsie.”

Rand - Dollar
16.26
-0.1%
Rand - Pond
19.75
+0.4%
Rand - Euro
16.72
+0.3%
Rand - Aus dollar
11.53
+0.1%
Rand - Jen
0.12
+0.5%
Goud
1,785.52
-0.2%
Silwer
20.30
-0.0%
Palladium
2,244.00
-2.0%
Platinum
950.50
-1.1%
Brent-ruolie
99.60
+2.2%
Top-40
64,287
-0.5%
Alle aandele
70,971
-0.4%
Hulpbronne 10
64,374
-2.2%
Industriële 25
86,973
-0.1%
Finansiële 15
16,105
+0.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos