“Om na ‘n toneel ontbied te word waar ‘n onbekende slagoffer aan skietwonde beswyk het, is een ding. Maar, om as beskermer en ouer te aanskou hoe jou kind by jou doodgeskiet word, is onbeskryflik.”
Dit is die hartverskeurende woorde van ‘n plaaslike polisiebeampte, adjudant-offisier Charles April van Lwandle-polisiekantoor, wat sy seuntjie weens ‘n skietvoorval aan die dood moes afstaan.
Die bedroefde ouer van vier steier steeds aan skok ná die voorval wat gistermiddag (Saterdag 19 November) in Strand plaasgevind het toe hul motor in die spervuur van ‘n vermeende bendeverwante skietgeveg beland het.
Sy sesjarige seuntjie, Cheslin wat saam met sy drie sibbe agter in die voertuig gesit het, is na bewering deur die voorruit deur ‘n dwaalkoeël in die hoof gewond. Hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Volgens die 44-jarige Broadlandspark-inwoner was hy en sy gesin op pad huistoe nadat hulle vir die dag uitgery het.
“Soos ons Bosduifstraat genader het, het ek gesien dat daar ‘n bakleiery uitgebreek het. Vir veiligheidsredes, het ek van koers verander en na Sercor-rylaan wat skynbaar stiller was, gery. Skielik hoor ek mense wat na ons uitroep dat daar in die omgewing geskiet word. Nes ek agteruitgbeweeg het, terug na Bosduifstraat, het ‘n koeël deur die voorruit gevlieg,” herroep April.
Hy verduidelik dat hy aanvanklik onder die indruk was dat sy kar raakgegooi is. Maar, toe hoor hy sy vrou, wat aanvanklik aan die kinders opdrag gegee het om plat te lê, skree, “Cheslin is geskiet”. Volgens April het Cheslin, wat agter die bestuurdersitplek gesit het, ‘n kopwond opgedoen.
April herroep voorts dat hy in Bosduifstraat ‘n ambulans gestop en met sy gewonde seuntjie genader het. “Paramedici het sonder huiwering, vir hom gelaai en na die hospitaal gehaas. Mediese personeel het alles gedoen om hom te red, maar Cheslin het dit nie gemaak nie.”
Provinsiale polisiewoordvoerder sersant Wesley Twigg het die noodlottige skietvoorval bevestig. “Omstandighede rondom die skietvoorval wat omstreeks 12:58 in Sercor-rylaan, Broadlandspark, ontstaan het, word ondersoek. Luidens berigte is die slagoffer deur ‘n dwaalkoeël getref terwyl hy saam met sy gesin gery het toe mededingende bendes op mekaar losgebrand het. Die slagoffer is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem vir mediese behandeling waar hy later weens wonde opgedoen in die voorval gesterf het,” sê Twiggs.
Die polisiewoordvoeder voeg by dat ‘n moordsaak deur die Strand-polisie ondersoek word en verdagtes wat die toneel gevlug het, nog aangekeer moet word.
Enigiemand met inligting wat tot inhegtenisneming kan lei, word versoek om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.
Volgens April sukkel hy en sy gesin met die tragedie wat hul geliefde Cheslin geëis het en die harde werklikheid wat hulle in die gesig staar.
“Ek is dood van binne. Vanoggend (Sondag) vind ek my deur die huis loop, op soek na my kind,” deel April terwyl hy teen die trane veg.
Die ouer vertel dat hy Saterdagoggend omstreeks 02:00 wakker geword het en dat Cheslin 05:00 by hom in die sitkamer aangesluit het om, soos oudergewoonte, te teken terwyl hy saam met sy “Dadda” sit.
April beskryf Cheslin as 'n opgewekte en lewenslustige sonskynkind wat hulle met sy sin vir humor vermaak het. Hy het met die begin van die akademiese jaar sy gr. R-jaar aangepak en met opgewondenheid uitgesien na sy eerste skooljaar aan Dr. G.J. Joubert Primêre Skool.
Cheslin word oorleef deur sy ouers en drie sibbe, 14, vyf en twee.