.

Uitslae-skok vir matrieks?

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die matriekklas van 2022 se matriekresultate sal dalk nie volgende jaar gepubliseer mag word nie – indien die departement van onderwys sy sin kry.

Die departement het vanjaar ’n toestemmingsvorm aan matrieks gestuur om te laat onderteken vir die publisering van hul matriekuitslae. Maar volgens kenners kan dit op ’n logistieke nagmerrie afstuur.

Kenners meen ook dit is in elk geval onnodig omdat die publisering van eksamennommers niemand se identiteit onthul nie.

Die departement van basiese onderwys het verlede week ná vergaderings met die inligtingsreguleerder ’n vorm aan die sowat 900 000 matrikulante wat vanjaar die eindeksamen aflê, gestuur.

Willie Spies, ’n prokureur van AfriForum, het verlede jaar die departement voor die hooggeregshof in Pretoria gedaag om seker te maak dat die matriekuitslae in die media gepubliseer word. Die departement het toe volgehou dat hy ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia) nie die inligting gaan bekend maak nie.

“Verlede jaar het die leerlinge geen toestemmingsvorm onderteken nie. Ons argument was dat toestemming nie nodig is nie omdat die inligting nie aan ’n spesifieke individu gekoppel kan word onder die betrokke eksamennommer van die leerling nie. Die hof het nooit die regsvraag beslis nie. Die departement het besluit om toe te stem tot die bevel dat die uitslae gepubliseer word, maar dat hy vanjaar met die reguleerder oor ’n gepaste proses sou ooreenkom.

“Ek dink die departement en die inligtingsreguleerder maak ’n denkfout deur te aanvaar dat die matriekuitslae, wat slegs aan ’n eksamennommer en -sentrum gekoppel is, private inligting is. Slegs die betrokke leerder ken sy of haar eksamen­nommer en slegs die betrokke leerder of iemand wat deur die leerling van ’n nommer voorsien is, weet wie se uitslae dit is. Die praktyk beskerm dus reeds privaatheid.”

Spies is ook skepties oor die verwerking van die vorms.

“Wie gaan die vorms verwerk en sorteer tussen die matrieks wat toestemming gee en dié wat nie toestemming gee nie?”

Volgens dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), word matrieks deur hul eksamennommer beskerm.

“Dis (die vorm) soos om ’n gordel saam met kruisbande te dra.”

Deacon sê egter as die vorm beteken dat daar minder drama met die publisering van die matriekuitslae sal wees, sal dit wonderlik wees. “Reg van keuse het dan geseëvier.”

Die inligtingsreguleerder het die idee van die departement verwelkom om ’n toestemmingsvorm in oorleg met die reguleerder op te stel en uit te stuur.

Die eerste vorm, wat in September aan alle matrikulante gestuur is, is op aandrang van die reguleerder teruggetrek.

Nomzamo Zondi, ’n woordvoerder van die inligtingsreguleerder, sê die reguleerder het bevind dat dit nie aan die Popia-vereistes voldoen nie. “Dit was nie doel-spesifiek nie en het leerders nie die geleentheid gegun om toe te stem of nie toe te stem tot elke gebied wat die verwerking van hul persoonlike inligting vereis nie.”

Volgens Zondi het die reguleerder op 12 Januarie vanjaar die eerste keer met die departement oor die publisering van die matriekuitslae vergader.

“Die kardinale punte wat die reguleerder geopper het, was toestemming en voorsorgmaatreëls vir die verwerking van die persoonlike inligting van matrikulante.”

Ná nog ’n vergadering op 17 November is die vorm hersien om leerders of bevoegde mense toe te laat om te kies waartoe hulle instem en is hulle ook die geleentheid gegee om daardie toestemming terug te trek. “Hoewel die reguleerder ’n verpligting het om te verseker dat daar geen onnodige belemmerings is tot die vrye vloei van inligting, insluitend persoonlike inligting, nie, het dit ook ’n plig om te verseker dat sodanige persoonlike inligting verwerk word in ooreenstemming met die voorwaardes vir die wettige verwerking van persoonlike inligting.”

Die Matriekklas van 2022 se resultate sal op 19 Januarie 2023 bekendgemaak word.

Bron: Netwerk24

besig om te laai... Regstreeks
Durban Super Giants 0
Sunrisers Eastern Cape 30/2
Rand - Dollar
17.47
-2.2%
Rand - Pond
21.06
+0.0%
Rand - Euro
18.91
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.09
+0.1%
Rand - Jen
0.13
+0.1%
Platinum
974.02
-5.0%
Palladium
1,623.95
0.0%
Goud
1,865.16
0.0%
Silwer
22.35
0.0%
Brent-ruolie
79.94
-2.8%
Top-40
74,082
+0.6%
Alle aandele
80,241
+0.6%
Hulpbronne 10
75,186
+0.7%
Industriële 25
103,461
+0.8%
Finansiële 15
16,550
0.0%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos