
Staptogte in die natuur, vasvrakompetisies oor die natuur, spinnerakke, waterveiligheid en kanovaarte was van die pretaktiwiteite wat tydens die DEEP-jaareindkamp aangebied is.
Die Dyer Island Conservation Trust se omgewingsbewaring-opvoedingsprogram, bekend as DEEP, werk met toegewyde leerders van Masakhane Primêr. Die program het in 2016 begin en duur al drie jaar. Elke jaar word 12 nuwe studente in die program opgeneem.
“Hierdie langtermynbenadering,” verduidelik DEEP-opvoeder Pinky Ngewu, “stel ons in staat om die deelnemers se vordering en die impak wat opvoeding oor die omgewing op kinders het, doeltreffend te monitor en te evalueer.”
Aan die einde van elke jaar gaan die leerders op ’n kamp. Hierdie jaar het leerders in hul tweede, derde en vyfde jaar van die program ’n kamp by Wortelgat in Stanford bygewoon. Hulle het aan aktiwiteite deelgeneem wat respek, spanwerk, leierskap en vertroue bevorder.
Volgens Ngewu het haar vyf jaar lange betrokkenheid met die DEEP-ambassadeurs haar geleer hoe belangrik dit is om op die persoonlike ontwikkeling van die jeug te fokus.
“Hierdie jong mense is ons toekomstige leiers, besluitnemers en wetgewers en hulle kan ’n groot impak in hul gemeenskappe hê. Om te sien hoe hul selfvertroue groei en hul taal- en kommunikasievermoë verbeter, is lonend. Hierdie kamp was vir hulle die ervaring van ’n leeftyd,” het sy bygevoeg.
DEEP het die volgende borge bedank wat die kamp moontlik gemaak het: Overstrand-munisipaliteit, PlasLantic, die Rolf Stephan Nussbaum Charitable Trust, Joan St Leger Trust, Khula Cape Foundation, Taurus Cape Kelp en Marine Dynamics.