.

Ian Roberts kom kuier

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ian Roberts.
Ian Roberts.

Vroeg op ’n Maandagoggend stap die bekende Suid-Afrikaanse akteur Ian Roberts rustig straat-op, op soek na die koffiewinkel waar hy gereël het om met die Hermanus Times te gesels.

Hy is lank en lenig, dra sy kenmerkende hoed en met sy potblou oë en rasperstem is hy onmiskenbaar. Meeste mense onthou hom as Sloet Steenkamp uit die gewilde televisiereeks Arende, of ken hom as musikant van die Radio Kalahari Orkes. Van die ouer garde sal hom onthou as Boet van ‘n motorolie-advertensies.

Roberts praat gemaklik en openlik oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en skroom nie om sy mening te lug nie, al is dit kontroversieel. By tye voel dit asof sy blou oë tot in jou siel kyk, maar na daai rasperstem kan mens heeldag luister.

Wat bring jou na Caledon van alle plekke?

Radio Kalahari Orkes se violis, Wynand Davel, het hier grootgeword en sy ma woon hier. Wanneer ons kleiner shows hier rond doen wat jou nie huisves nie, woon ons by haar. Dis baie gerieflik, want dis sentraal geleë vir shows in Botrivier, Greyton en Hermanus.

Jy kom van ’n baie Engelse agtergrond en het op jou ouers se plaas in Fort Beaufort in die Oos-Kaap grootgeword, Engelse skole bygewoon en aan Rhodes Universiteit studeer, maar praat ook vlot Afrikaans en Xhosa. RKO se musiek is Afrikaans. Hoekom?

Op die een vlak is dit toeval, op ’n ander vlak is dit ’n eienaardigheid. Ek het van vroeg in my lewe ’n emosionele verbintenis met die Afrikaner. My familie is Wallisers, nie Engelse nie. Ek was vir ’n ruk in Engeland en het glad nie tuis gevoel nie. Ek was ’n vreemdeling en het gevoel ek hoort nie daar nie. Ek kon nie vinnig genoeg uit die land kom nie.

Die emosionele ding het begin toe ek Arende moes studeer vir die rol van Sloet Steenkamp. Hulle het vir my boeke van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein gestuur en ek is aangesê om dit te lees sodat ek kon verstaan wat met daardie gevangenes gebeur het. Ek het gesien watter soort orde die Britte wou afstempel op plekke wat hulle ingeval het, en dit is vir my walglik. Ek het ook mense soos De La Rey se lewe bestudeer en in ’n mindere mate dié van De Wet en Smuts.

Wie skryf julle musiek?

My neef Dan Roberts, die skrywer Rian Malan, wat ook soms saam optree, en ek.

Hoe het die pandemie julle beïnvloed?

Ons het eintlik nooit ophou speel nie. RKO bestaan uit ses lede, maar soms het net twee van ons die pad gevat en vir ’n handjievol mense gespeel.

Wat was jou gunstelingrol wat jy gespeel het?

Dit is ’n baie moeilike vraag, want wat met ’n mens gebeur is dat jou ego verander soos jy aangaan. Wanneer jy jonk is, is jy vol ego en dan is die ego rolle die beste. Maar soos jy aangaan en groei, word jy meer soort van ego-loos en dan verander die rolle. Ek sal tog sê dat die rol wat die grootste impak op my gehad het, was dié van Sloet Steenkamp in Arende. En voor dit Verspeelde Lente. Ook die reeks Heroes was baie goed, maar niemand het eintlik daarna gekyk nie, want dit was in Engels. Daardie rolle was vir my baie spesiaal. Dan was daar ook die rolprent Everyman’s Taxi waar ek die uitdaging gehad het om die regie te doen, die teks te skryf en om daarin te speel.

Watter bekende akteurs met wie jy al gewerk het, het jou die meeste beïndruk?

Sidney Poitier het ’n groot impak gemaak op my. Hy is ’n baie interessante mens en dit was nie nodig om baie te sê om mekaar te verstaan nie. Vir Patrick Swayze het ek baie geniet as mens. Hy was ’n dapper man gewees. Kim Basinger was ook ’n formidabele vrou.

Jy het onlangs weer pa geword van ’n tweeling. Hoe ervaar jy dit?

Dit is ’n heeltemal ander storie as wanneer jy jonk is en kinders kry. Alles wat met jou gebeur, beïnvloed jou waarde as ouer. Ek is nou ’n klein bietjie beter toegerus om meer betrokke te wees by die kinders. Dit was moeilik met die eerste twee omdat ek en my eksvrou, Michelle Botes, baie gewerk het en ook in die kollig was. Die tweeling is kort voor die pandemie gebore en dit was ’n baie moeilike tyd. Ná ’n jaar het ek gevoel ek weet nie meer wie ek is nie. Ek was so verlore in hierdie intensiewe tyd wat ons deur is.

Waar kom jou belangstelling in kruie vandaan?

Oor die jare het ek met kruie begin werk. Maria Treben se Sweden Bitters was my inspirasie, maar ek het my eie dinge uitgewerk en maak my eie tee-mengsel wat ek daagliks drink. Ek maak ook ’n kruie-olie wat ek slangolie noem.

Jy was was ook ’n slag stoksielalleen in die Kalahari. Vertel ons daarvan.

Ek wou ’n slag heeltemal alleen in die Kalahari wees, maar daai plek kan jou voos maak. Dit kan jou gek maak. Die tweede nag het ek op ’n duin gesit. Alhoewel dit ’n volmaannag was, was die sterre so helder en naby. Dit het gevoel asof hulle op jou kop sit. Dit was stil. Doodstil. Dan hoor jy die aarde wat draai. Dan weet jy wie en wat jy is en hoe klein jy eintlik is.

Wat sê jy oor liefde?

Die woord word so misbruik. Mense sê so maklik ek is lief vir jou. Voetsek! Wat weet jy nou eintlik van liefde. Maar ek sê vir jou, liefde is ’n bliksem hoor. As jy hom nou rêrig het, dan weet jy dis terminaal. Dis koebaai.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Ek weet nie. Ek is ’n man wat baie dinge doen, nie net musiek nie. Ek speel in rolprente, skryf tekste en is ook rolprentvervaardiger. Ek probeer nou al vir vier jaar finansiering kry vir ’n rolprent. Ek het sewe jaar aan die teks geskryf. Herskryf en herskryf. Dit kan moontlik so teen die begin van die winter realiseer. Dít sal vir my die eerste prys wees.

Rand - Dollar
15.77
+0.7%
Rand - Pond
19.69
+0.5%
Rand - Euro
16.65
+0.5%
Rand - Aus dollar
11.10
+0.6%
Rand - Jen
0.12
+0.5%
Goud
1,846.66
0.0%
Silwer
21.76
0.0%
Palladium
1,970.00
0.0%
Platinum
958.50
0.0%
Brent-ruolie
112.55
+0.5%
Top-40
61,000
-1.2%
Alle aandele
67,575
-1.0%
Hulpbronne 10
72,529
+1.6%
Industriële 25
72,948
-3.9%
Finansiële 15
15,746
+0.1%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos