
Almal het al gehoor van Harry die Strandloper, maar het jy geweet dat die Overberg ook sy eie strandloper het wat Clinton Trimm heet?
Trimm (56) het beroemdheid verwerf toe hy vroeër vanjaar buite Struisbaai deur die polisie van die strand af weggejaag is terwyl hy besig was met een van sy staptogte.
Onlangs was Trimm ook te sien in Hawston waar hy as deel van sy reis van Kensington aan sy Onelove-dokumentêr werf waar hy skryf oor ons land se mense en mooie natuurtonele.
“Ek is van die Strandvelder-mense – dit beteken almal wat voorheen en vandag in die Overberg gebied bly en intieme verhoudings met die see en die natuur beleef. Ons wêreld en ons kus het ons nodig, ons moet dit beskerm,” sê Trimm.
Hy het al van 1991 af aan optogte op strande deelgeneem om weg te kom van die huis af. “Die strand was altyd ’n uitweg, ’n manier om weg te kom. Dit is amper soos die vissers wat in hul eie wêreld leef. Ek het agtergekom dat daar nog ’n wildernis vir ons oor is. Al die pad van Gordonsbaai tot Port Elizabeth. Als van die fynbos tot die renosterbos is vir my mooi. Ek loop om ons plantegroei en erfenis te beskerm.”
Hy sê Hawston is baie naby aan sy hart. “Dis ’n plek wat al jare lank gangsterism geteister word. Die grootste gangster in die land van Hawston is dan nou dood. So, wat is die verskoning dat Hawston nie ondersteuning kry nie? Dit gaan nou al vir jare so aan.”
Hy sê Hawston is nou in ’n healing-proses. “Die mense in Hawston het in hel gebly. Hulle het baie ondersteuning nodig. Ek fokus op die jeug in Hawston. Ek wil hulle en almal aanmoedig om langs die kus te loop. Julle kan vrylik loop. Ons wil die jeug ook waarsku wanneer is die sensitiewe tye om op die strand te wees, wanneer die voëls hul eiers lê.”
Sy fokus is om mense te herenig. “Ons almal kom van velle af. Mense in Europa het ook jare gelede in velle rondgeloop. Ons is eenders. Ons wil die lewe van ons voorvaders uitbeeld, om langs die kus te leef. Om water en kos langs die kus te kry. Als wat my onderhou bestaan langs die kus. Loop langs die kus, gaan beleef dit.”
Hy loop gewoonlik so tussen 20 km en 30 km per dag. “In ’n donkernag volg ek die maan. In die dag is die son soms woes. Ek skryf al die interessante plekke neer en leer meer oor die plekke as deel van die dokumentêr waaraan ek werk. Ek pak later die week van Gansbaai tot bo aan Arniston aan. Dit gaan beslis ’n harde lopie wees,” sê Trimm.