
Rubberkoeëls, traangas en skokgranate is gebruik om ’n groep van ongeveer 500 betogers wat vroegoggend Villiersdorp se strate ingevaar het, uiteen te jaag.
Luitenant-kolonel Chrisna Auret, Villiersdorp-polisiekantoor se bevelvoerder, berig dat lede van die gemeenskap die strate ingevaar het om te eis dat ’n sekerheidsmaatskappy wat deur die Theewaterskloof-munisipaliteit aangestel is om onwettige strukture in die informele nedersetting af te breek, se werk stopgesit moet word en dat hulle die gebied moet verlaat.
TWK-munisipaliteit het bevestig dat die munisipaliteit, polisie en die openbare-orde-polisie-eenheid sowel as verkeers- en wetstoepassingsbeamptes ontplooi was. Wilfred Solomons-Johannes, die waarnemende munisipale bestuurder, berig dat ongeveer 250 mense saamgedrom het toe senior amptenare van die departement van menslike nedersettings in Villiersdorp opgedaag het om die skare toe te spreek.
“Die eerste pogings om die situasie te kalmeer, is onderbreek toe betogers nabye winkels begin plunder het. Nadat die skare onder beheer gebring is, is hulle weer toegespreek, en daar is besluit dat ’n vergadering saam met die betogers op Maandag 3 April by die Villiersdorp-hulpbronsentrum sal plaasvind.”
Volgens Solomons-Johannes was die munisipaliteit die afgelope paar weke op ’n hoëgereedheidsgrondslag om die onwettige indringing van grond rondom die Destiny Farm-behuisingsontwikkelingsprojek te keer. Hierdie behuisingsontwikkelingsprojek sal ongeveer 1 400 behuisingsgeleenthede in die gebied ontsluit.
“Begunstigdes van hierdie behuisingsprojek was uitgesproke oor hul bekommernisse en verwerping van mense wat die grond onwettig probeer beset aangesien hulle vrees dat dit die projek sal vertraag. As munisipaliteit is dit ons verantwoordelikheid om die grond te beskerm en ons neem hierdie verantwoordelikheid baie ernstig op om te verseker dat soveel as moontlik behuisingsgeleenthede vir inwoners ontsluit word aangesien baie al lank op die behuisingsdatabasis wag,” het Solomons-Johannes verduidelik.
Fase 1 van die projek het in Berg-en-Dal begin en kontrakteurs is besig om siviele dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit op die perseel te installeer.
Auret het bevestig dat die situasie in die dorp tans kalm is. Sy het bygevoeg dat ’n saak van openbare geweld en opsetlike saakbeskadiging ondersoek word. Die klag van opsetlike saakbeskadiging spruit uit ’n voorval toe die betogers werknemers van die sekerheidsmaatskappy se voertuie met klippe gegooi het. “Geen beserings is aangemeld nie en geen inhegtenisnemings is al gemaak nie,” het Auret berig.