
Daar is woelinge in die Dr. Beyers Naude plaaslike regering wat by die raadsvergadering op Dinsdag, 4 Mei op die spits gedryf kan word.
Die uitvoerende burgemeester, Ewald Loock, kan moontlik tydens dié raadsvergadering uit sy amp onthef word en die ANC beheer van die dorp oorneem.
Die DA, VF Plus, EFF en CSA het sedert die laaste munisipale verkiesing 13 van die raad se 24 setels ingeneem. Met die opsteek van hande het hulle Loock in sy amp ingestem.
In ’n dramatiese wending het die Oos-Kaapse leier van CSA, Cheslin Felix, sy partygenoot, die DBNLM se speaker, Laughton Hoffman as proporsionele raadslid die trekpas uit die raad gegee.
Felix het homself in die pos as CSA-raadslid aangestel. Hy het hom by die 11 ANC-raadslede geskaar en die speaker se stoel ingeneem.
Die CSA se setel binne die plaaslike raad is dan ook hul enigste raadslid setel in die land.
Met die samewerkende ooreenkomste, of soos politieke partye dit beskryf, “raadslede met dieselfde diensleweringsbehoeftes,” sit die raadsaal se stoele nou met 12 raadslede aan elke kant.
Felix se toetrede tot sy nuwe amp is deur die ANC ondersteun en laat hom as speaker met die beslissende stem om die septer te swaai in die rigting wat hy goeddink.
Met 11 ANC-raadslede aan Felix se kant in sy politieke magsposisie, is dit moontlik dat Loock ná Dinsdag se vergadering die beheerstruktuur van die raad vanuit ’n gewone raadstoel sal moet bekyk.
Die ANC se feesvure brand reeds hoog. Die name van Willem Syfer en Eunice Kekana is op die ANC se lippe as die twee kandidate vir die burgemeesterspos.
Die DA het egter nie gaan lê nie en volgens Francois de Villiers, hul koukus-sekretaris, is ’n regsproses reeds van stapel gestuur om die ANC en CSA se planne te kniehalter.
De Villiers sê ’n prokureursbrief is reeds op Felix se tafel om die beplande vergadering te stuit.
“Die ANC en CSA se proses word nie ooreenkomstig die Staande Orde en vereistes van raadsvergaderings gedoen nie,” aldus De Villiers.
Cheslin Felix sê op sy beurt, “Die CSA is nie meer in ’n samewerkingsooreenkoms met die DA, VF Plus of EFF nie. Ons het wel ’n nuwe samewerkingsooreenkoms met die ANC.
“Wat Dinsdag se mosie van wantroue teen die burgemeester betref, kan ek nog nie sê of dit ’n geheime stem met stemme in ’n boks gaan wees of watter tipe stem-metode gebruik gaan word; en of my beslissende stem deurslaggewend gaan wees nie.
“Ek kan my ook nie uitlaat oor watter kant toe my beslissende stem sal gaan nie, maar soos ek sê, die CSA en ANC is nou in ’n samewerkingsooreenkoms,” sê Felix.
Laughton Hoffman kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Die sekretaris van die DBNLM ANC, Bennie Roman, het Felix as lojaal beskryf en gesê hy glo Felix sal sy beslissende stem oordeel-kundig en verantwoordelik gebruik.